Geveg na more

Somtyd kan die wêreld te veel lyk. Jou eie en ander se pyn en kan jou aftrek in die diep donkertes van jou gemoed, jou laat voel dat geen hoeveelheid liefde en opoffering ooit genoeg is nie. Verder kan pyn ons in situasies in bring waar ons nie net fokus op ons eie pyn nie, maar ook verdere pyn van die wêreld daar buite in bring in ons eie lewens in. Ons fokus gedurig daarop, ‘n tipe van verslawing. ‘n Manier om ons geloof dat die lewe ‘n pynlike ervaring is te bevestig, ons ‘n rede te gee om nie te werk om uit ons situasies uit te kom nie. Dis soveel makliker om op te gee as om te veg!

In sulke omstandighede is dit broodnodig om vir ‘n oomblik of meer terug te tree en na jouself te kyk, jou pyn te erken en ten volle te ervaar. Jy kan nie uit ‘n leë put water trek nie. Liefde, vrede en genade begin by ons self. Sonder dit kan daar geen liefde, vrede en genade vir ander wees nie. Meeste van ons word in ons grootword jare direk of indirek geleer om ons pyn te vermy en te ontken, maar pyn wat onder ‘n mat ingevee word, het die potensiaal om te vermeerder en ver groter probleme in die toekoms te veroorsaak. Vir vele van ons verander onderdrukte pyn in chroniese woede en inflammasie toestande in ons lywe, wat op sy beurt in siekte toestande in mag verander.

Verder straal ons harte energie uit, beide positiewe en negatiewe energie wat ‘n groot impak kan hê op die mense rondom ons. So beland ons in ‘n donker doolhoof waar geliefdes en vriende mekaar verder aftrek in pyn in.

Hoe kan ‘n mens dan uit hierdie negatiewe kringloop kom? Ek glo in die genesende krag van gebed, meditasie, vars kruie, groente en vrugte, diere, tyd in die natuur, die prag van kuns en musiek. Verder kan skryf, die skép van musiek en kuns ook ‘n groot rol speel om ons pyn te verwerk en te omskep in iets wat genesing vir ons self en ander kan bring. ‘n Veilige omgewing waar ons kan praat oor ons pyn is nog ‘n groot hulpmiddel.

In sommige gevalle is nie een van die bogenoemde genoeg om genesing te bring nie en is dit nodig om ons uit ‘n situasie te onttrek. Tydelike onttrekking kan lei tot ‘n nuwe uitkyk op ‘n probleem en die verstaan dat ‘n situasie nie so ernstig is as wat ons gedink het nie, of dat ‘n bietjie werk wondere kan verrig. Ander kere is ‘n permanente onttrekking of distansie die enigste oplossing.

Moet nooit die die rol van pyn en woede onderskat nie, dit het ‘n groot rol te speel in genesing. Dit maak ons attent op waar daar haakplekke in ons lewe is, waar daar werk nodig is, waar ons harte en siele gekwel en in gevaar is.

Geveg na more

My lewe het ‘n geveg geword na asem, stilte, vrede, veiligheid, rus.
Donker rondrol nagte, dae doelloos, sielloos deurgebring.
Telkens ‘n oomblik van hoop dat lig die donker sal dood, als te vergeefs.
Ek leef tussen die siende blindes, skouers geboë, skuifelende moeë voete, trane kindtyd al opgedroog.
Tree vir tree na hul dood. 
Geen liefde, vreugde, opoffering genoeg om hulle te red nie.
‘n Bodemlose put wat opeet en uitspoeg, tentakels wat gryp na nog.
Drome van klatergoud, pyn, woede, hulle enigste verweer teen die seer.
My tuin, my oomblik van hoop voor nog ‘n dag begin.
Petunias blom waar my trane saad geskiet het, trosse pers reik na bo waar hulp vandaan kom, vlinders en naaldekokers sê sprei jou vlerke, die lentelug ‘n belofte van ‘n vars nuwe lewe, traag om te kom.
Hoe lank nog Here?
Hoe lank moet ek nog vasgevang wees in ander se pyn, die gevolge van ander se foute, my verkeerde keuse om te bly wanneer alle hoop solank al tot niet is?
Gee my die krag om nuut te begin, weer te kan hoop, my laaste goeie jare in vrede en vreugde deur te bring.
Ek is moeg Here, ek het U nodig!

Joernaal vrae:

  1. Wat probeer my pyn en woede my vertel?
  2. Bring ek verdere onnodige pyn in my lewe in, fokus ek te veel op die pyn daar buite? Het dit enige nut as ek nie ‘n verandering aan ander se lewensomstandighede kan aanbring nie?
  3. Vat ek die verantwoordelikheid van ander se lewens op my, terwyl hulle self nie bereid is om te veg vir ‘n beter more nie?
  4. Watter hulpmiddels soos gesonder eet, meer tyd in die natuur, kreatiwiteit, etc kan ek gebruik om ‘n pynvolle situasie beter te hanteer of genesing te bring?
  5. Wag ek vir God om ‘n situasie te verander, terwyl ek my verantwoordelikheid om aksie te vat vermy?
  6. Hou ek myself terug deur nie na my pyn te wil kyk nie?
  7. Hou andere my terug deur te ontken dat daar ‘n probleem is?
  8. Hou ek myself terug deur nie te glo dat daar hulpmiddels is wat my kan help om my situasie beter te kan hanteer nie?
  9. Is dit tyd dat ek myself tydelik onttrek uit ‘n situasie?
  10. Het ek al die bogenoemde probeer en is dit tyd om myself permanent uit ‘n situasie te onttrek of ‘n sekere mate van distansie te bring?

My lief

My lief. Jou verlede is nie jou toekoms nie. Wat aán jou gedoen maak jou nie só nie. Die herhaling in jou kop is om sin daaruit te probeer maak, te verwerk, te oorbrug. Ons moet ons voorvaders se foute erken en in ons self genees. Onder die mat in vee is wat meer pyn in die toekoms in stuur.  Stories word van geslag tot geslag herhaal, omdat elke nuwe geslag probeer genees, sonder om te verstaan hoekom hulle die patroon herhaal.  Net soos brand slagoffers oor en oor dieselfde storie vertel.  Herkenning en erkenning van die pyn en foute van die verlede, gewilligheid om die pyn in die oë te kyk en te verwerk, verbrokkel die houvas oor jou tot niks.

Die werklike jy is die een met die grootste soetste drome vir ‘n mooi toekoms. God het jou drome daar gesit om jou te herinner aan wie jy WÉRKLIK is. Gooi af jou kettings, die boeie is oop.

God het ons saam op hierdie pad gebring vir ‘n rede.  Vat jou tyd, ek wag vir jou.  Ek kan jou nie genees nie, maar ek kan daar wees terwyl God en jy julle werk doen.

Die brein is ‘n wonderlike ding wat homself kan herbedraad, nuwe impulse skep. Ons kan nuwe herinneringe bou wat die oues help vervaag.  

Hoe kan ek aan jou verduidelik hoeveel respek en liefde ek vir jou het?  Jou eerlikheid met my, jou sagtheid, braafheid, durf en deursettingsvermoë, die sukses wat jy van jou lewe gemaak het.

Jy staan kop bo water uit bo enige iemand anders.  Kom ons stap hand aan hand ons toekoms in.

 

Katarsis

 

‘n Gevoel so teer en sag het in my hart kom lê.
Delikaat en fyn, fladder vlinders in my maag,
my hart bons net vir jou
Ek het vir jare in iemand anders se vel rondgeloop, onverwags my eie teruggekry, wakker uit ‘n diep donker droom.
Klanke uit my jongmeisie dae vul die lug, Only you, Happy to be stuck with you, Eternal flame.
Ek’s terug in 1984, lentedag, elf jaar oud en in plaas van Manie ‘n blondekuif rykmans seun, wat in sy pa se geel Jeep by die skool afgelaai word, is jý, met jou groot bruin oë my eerste kys.
Skoongewas van alles tussen toe en nou,
my verlede weggestroop
‘n Weerbegin, met ‘n goeie skeut vrees.
Kan jy dit voel?

He took my spoon

Ek en my ma is op ons min of meer weeklikse gesamentlike inkopietog en soos gewoonlik bederf ons ons self met ‘n capuccinotjie. Of ons nou die maand arm of ryk voel, koffie by Wimpy is altyd in die begroting.

Hier praat ons ons harte uit, bespiegel en filosofeer ons, praat mekaar moed in. ‘n Paar trane is al stilletjies hier in ons gewone hoekie langs die speelpen van mekaar se oë afgevee.

Ek voel aan dat iemand vir my kyk. ‘n Klein seuntjie van so vier/vyf met rooiblonde hare en mooi ogies, staan teen die ruit en staar vir my. Die ogies is strak en vraend en kyk van my ma na my ma toe, asof hy probeer uitwerk of ons vriend of vyand is. Ek glimlag en trek my gesig vir hom, maar hy kyk net vir ‘n oomblik diep en peinsend in my oë, draai dan om en speel verder. Ek voel skoon ongemaklik met die kind se starery en die dat hy geen reaksie toon nie. Dink vir ‘n oomblik by myself hoe hartseer dit is dat ‘n klein kind van vier/vyf al klaar so wantrouig en ingetoë voorkom, die oë wat lyk asof hulle klaar te veel van die lewe gesien en gehoor het. Voor ek verder kan praat hoor ek hoe hy aan die ruit klop.

Ernstig en groot oog vorm hy klanklose woorde deur die ruit. Iets van vir tannie iets wys en popcorn. Hy wys na my ma toe en wink met ‘n krom vingertjie binne toe, ‘n vinnige, versigtige glimlag op sy gesig. Ek glimlag vir hom, skud my kop en praat verder maar hy is duidelike ‘n vasberade mannetjie. Toe ek weer sien is hy uit by die deur en besig om woordeloos vir my ma te beduie om in die speelpen in te kom. Hierdie keer skud my ma haar kop, beduie ons kan nie en glimlag gerusstellend vir wie ons aanneem die ouma is aan die anderkant van die muurtjie. ‘n Mens is maar versigtig om in vandag se lewe nie te eie met vreemde kinders te wees nie en probeer mense gerusstel dat jy nie een of ander boef is nie . Ouma glimlag nie terug nie, kom skud net ‘n benerige vinger in die outjie se gesig wat dit duidelik maak hy het nou ‘n vreeslike sonde begaan en vat hom terug speelpen toe. Ek kan verstaan hoe versigtig ‘n mens deesdae moet wees vir jou kinders en kleinkinders, maar dit maak my hartseer dat ek nie maar gaan kyk het wat hy vir ons wou wys nie, al is ek skriks vir die ouma.

‘n Kelner loop verby ons met ‘n bubblegum blou melkskommel. Ek wys vir my ma en glimlag. Ten minste kry die outjie ‘n blou melkskommel uit sy ouma uit, maar toe nie. Dit word neergesit voor ‘n gryshaar vrou, loslit in pastel aangetrek, alleen by die tafel. Haar houding val my dadelik op. Haar hele wese sê “waar ek ookal is, daar hoort ek, want ek is en dis genoeg”. Gemaklik in haar vel, geen probleem omdat sy alleen by ‘n tafel sit nie. Staar nie na ‘n selfoon om minder ongemaklik te lyk of te voel nie. Jy kan nie anders as om die kontras tussen die twee vroue van min of meer dieselfde ouderdom te sien nie.

Ons raak besig met ons gesprek en koffie tot ‘n stem my aandag trek. “He took my spoon, he took my spoon” lag die loslit tannie hard. Die kelnerin en die skuldige kelner by die kombuisdeur lag verleë. Kelnerin bring vir haar ‘n nuwe lepel in ruil vir die een wat haar kollega ontvoer het. Volgende oomblik is loslit tannie op van die tafel af en tel die bal op wat by die speelpen se deur uitgebons kom. Sy gee vir die kind die bal, praat vriendelik vir ‘n oomblik met hom. Sy glimlag vir die nors ouma, gaan sit weer en drink ongeërg verder aan haar blou melkskommel. Later sien ons haar in die supermark. Beduie wild met haar hande om te verduidelik waarna sy soek. Voete ferm op die grond, vriendelik, in beheer, nie bekommerd om uit te staan en gesien te word nie, nie bekommer om vrae te vra nie. Jy voel aan dat hierdie vrou deur baie dinge is, maar sy laat haar nie sommer onderkry nie.

So wil ek wees as ek eendag oud is dink ek by myself. Loslit, vrolik, gelukkig, met ‘n innerlike vertroue in en liefde vir myself, my eie beste vriend. Basta met ander se sienswyses en idees oor my. Nie bang om alleen op ‘n vliegtuig te klim en die wêreld te gaan bekyk as ek wil nie. Nie bang om ‘n hand na ‘n kind of grootmens wat my hulp nodig het uit te strek nie, al is dit net om ‘n geselsie te voer met ‘n kind wat vir ‘n oomblik menslike kontak soek, maak nie saak of die ouma vir my gluur nie.

Soos onkruid, wil ek altyd weer op kom, maak nie saak hoeveel keer die lewe my platslaan nie. Want ek is daar vir myself en dis alwat ek nodig het. Die res is alles ‘n bonus.

Ek het nog ‘n paadjie om te loop om daar te kom.

Geel

Dark capped (black eyed) bulbul
Dark capped (black eyed) bulbul

Dis lente!

Die son skyn warm op my wanneer ek my lojale ou Jimbo brak buite gaan kos gee. Daar’s ‘n lieflike koel briesie wat my laat verlang na vakansie.

Daar’s ‘n voëltjie se gesang wat vanmore uitstaan bo die res, omdat ek al vir solank probeer uitmaak watse voëltjie dit is. Dit klink asof hy sê Piet-Piet-my-vrou, so ek neem aan dat dit die Piet my vrou voëltjie is wat ek van kleintyd af gehoor het, maar nog nooit gesien het nie. Ek onthou vaagweg dat ek al in ‘n boek gesien het dat hy rooi iewers op sy lyfie het, so ek hoop ek sien ‘n spatseltjie of meer rooi wanneer ek hom kry!

Bo in my geliefde witstinkhoutboom sit wat lyk na ‘n swart en grys voëltjie en ek sien dat dit hy is wat die deuntjie sing. Ek glip vinnig in om my kamera te gaan haal en hoop dat hy nog daar is wanneer ek terugkom.

Ek skiet vinnig ‘n paar skote van ver af vir in geval hy wegvlieg. Miskien sal ek ‘n identifikasie kan maak al is dit bietjie ver.

Toe ek sien hy bly sit, waag ek om om die muur te glip en reg onder die boom nog ‘n paar fotos te neem, maar dan vlieg hy na die Moepel boom toe, nader aan my huis.

Ek hoor ander onbekende voëltjie klanke wat ook van die Wistinkhoutboom afkom en ek probeer vir ‘n oomblik of twee kyk of ek nie die eienaars van die deuntjies kry nie. Naderhand loop ek maar terug huis se kant toe want hulle kruip vir my weg vanoggend.

Ek is ten minste bly om te weet dat daar nuwe opsies is vir my om af te neem noudat die lente gekom het. Ek kan net soveel keer dieselfde voëltjies afneem in dieselfde bome in die dieselfde tuin. Ek weet uit ondervinding party sal wegkruip tussen die blare sodat ek nooit ‘n goeie beeld van hulle kan kry nie, maar ander sal naderkom en behoolik vra om afgeneem te word. Ek gaan soek ‘n laaste keer na my “Piet-my-vroutjie” maar ek kry hom nie weer waar hy tussen die takke sit nie, hoor net sy deuntjie verlangs.

Wanneer ek uit die son is en die voëltjie van nader bekyk is my illusie finaal verpletter. Ek is terleurgesteld om geel onder sy vlerke te sien, die Swartoog Tiptol wat ek al soveel keer vantevore afgeneem het en altyd by my waterbak drink. Oulik, maar nie waarvoor ek gehoop het nie. Coldplay se liedjie Yellow speel in my kop en ek wonder wat die simbolieke betekenis van geel is.

… On one hand yellow stands for freshness, happiness, positivity, clarity, energy, optimism, enlightenment, remembrance, intellect, honor, loyalty, and joy, but on the other, it represents cowardice and deceit.

Ek moet glimlag want dit is so van toepassing op wat in my lewe aangaan. Ek voel positief vir die nuwe lente wat voor my lê, maar baie mense maak my net deesdae klaar en op, maak my kop draai met hulle speletjies, negatiwiteit en verraad. Baie kruip tussen die blare weg. Naby genoeg om ‘n glimps van hulle te kry en meer te wil weet, maar te ver om te kan bepaal wie en wat hulle werklik is, Die spieëlbeeld illusies van soveel mense, lê in duisende skerp stukke rondom my voete, soos my geliefde studente-tyd bord wat ek gisteraand gebreek het.

Ek weet ek moet soos Coldplay se liedjie ‘n geel lyn trek tussen my en hulle – parkering beperk tot oop, opregte, goeie mense. Ek moet wegbreek van dit wat my ongelukkig maak, verwar en terughou.

Ek kan net soveel keer dieselfde geelstert voëltjie afneem!