Onthou jy nog jou liedjies?

Onthou jy nog jou liedjies? Die liedjies wat jou maak wie jy is, die liedjies wat net jy kan sing, die liedjies wat jou help om staande te bly in donker tye, die liedjies wat genesing bring?

Somtyds moet ‘n mens ver in jou verlede gaan soek om jou liedjies te onthou. Soms in ons diepste donkerste oomblikke stuur God ‘n engel om die eerste paar note vir ons te sing.

Twee en ‘n half jaar gelede het God ‘n engel na my toe gestuur in die vorm van ‘n vreemdeling wat op ‘n Youtube kinder-storie video kommentaar gelewer het. Sy eenvoudige heimwëe woorde oor sy kindertyd het my laat besef het daar nog diepte en mooi in die wêreld is, dat nie alle mans was soos die wat ek om my gesien het nie. Ek kan nie meer die woorde onthou nie, ek sal ‘n deeglike soek op Youtube moet doen, maar dit het my verander. Hierdie wonderlike woordesmous het my herinner aan wie ek diep binne was, hy het my gehelp om een van my liedjies terug te kry, hy het my beter help verstaan waarom my hart nie tuis en veilig gevoel het waar ek is nie.

Ek was gesëend gewees om so iemand te ontmoet, maar dis nie altyd nodig om met ‘n misterieuse vreemdeling in aanraking te kom om jouself weer te vind nie.

Ek glo as jy werklik wil weet wie jy diep binne in jou kern is, gaan terug na jou kinder en jongmenstyd. Ondersoek die drome wat jy gehad het, kyk na wat jou gefassineer het, waarmee jy jouself besig gehou het, wat jou hart warm laat klop het, selfs wat jou pyn verskaf het.

So ‘n nou en dan terugblik kan jou help herinner aan wie en wat saak maak en dis wat ek onlangs weer gedoen het…

Ek was ‘n alleenkind wat meeste van my kinderdae in boeke deurgebring het, besig om te lees van ander wêrelddele, kulture en hulle stories. My ma’le het gewoonlik gesukkel om my neus uit ‘n boek te kry om te kom eet of iets anders te doen. As ek gelees het, kon alles om my vergaan en ek sou dit nie eers besef het nie! Deesdae droom ek van wonderlike ou geillustreerde kinderboekke versamel en self eendag ‘n boek of twee uit gee. Lees is nogsteeds vir my ‘n wonderlike plesier alhoewel ek weer moet leer om te kan ontspan en vir ure in ‘n boek te kan wegraak soos destyds.

Die res van die tyd was ek buite in die tuin, besig om iets kreatief te skep uit die blare en blomme rondom my, wolke te kyk of besig om met hoenders, hasies of honde te speel. My hart was baie klein as dit by diere gekom het en ek het nogsteeds ‘n spesiale band met hulle. Al wat ‘n siek dier is, eindig altyd by my op! My tuin is nogsteeds vir my ‘n toevlug. Daar is min dinge wat nie ‘n bietjie beter gemaak kan word, deur tyd in die natuur deur te bring nie, selfs al is dit net jou eie agtertuin!

Dan het ek ook daarvan gehou om te teken, of om op my ouma se solder of tussen my oumagrootjie se ougoed skatte te probeer ontgin in laaie. Ander kere het ek die vele ou klere, hoede en skoene aangepas. Ougoed is nogsteeds ‘n liefde vir my, ek kan ure in ‘n antieke mark of winkel deur bring. Kuns, kuns materiale en enigiets mooi kan nogsteeds my hart laat sing! Kreatief wees en fokus op my kuns het my al deur donker tye gedra!

As ek nie besig was om my ouma se arme huis omver te werp nie, was ek en my broer besig om my ouma se hertzog tertjies en karringmelk beskuit saam met glase melk te verorber. Ek het nou nog ‘n liefde vir bak en kook, deesdae meestal darem ‘n bietjie gesonder!

My familie se lewe het om kerk gedraai – Woensdagaand, Sondae oggende en aande kerk, Sondagskool elke Sondag oggend, Donderdae aande koor, baie Saterdae kerk skoon maak saam die res van die gemeente of besig om blomme te doen vir Sondag. In die laaste paar jaar het my geloof vir my belangriker as ooit geword. Ek sien en verstaan baie dinge miskien nie meer dieselfde as vantevore nie, maar sonder my geloof in die goedheid van God, Jesus en die engele is my lewe niks.

Ons vriende was almal kerkmense en die res van die familie wat in die kerk saam ons was. Na kerk en met spesiale besoeke van hoër ampte in die kerk was daar gekoek en getee. Sondagskool uitstappies was een keer ‘n jaar, gewoonlik Omaramba of die Kloof. Ons is met kombis en een jaar selfs met ‘n trok aangery. Daar was gebraai, geswem, tennis gespeel, tou getrek, ogies gemaak tussen die seuntjies en dogtertjies, en baie van tannie Poppie se vetkoek en jam en glase koeldrank opgeslurp. Ek het onlangs besef dat daar ‘n groot leemte in my lewe is, daar is nie meer ‘n gemeenskap van mense wat my omring, waar ek veilig en gelukkig voel nie. My vriende is wyd en suid oor die aarde versprei, ons het meestal kontak verloor. Niemand is meer dieselfde nie. Party het die pad byster getraak, ander het mekaar net eenvoudig ontgroei. Ek het vergeet dat ek lief is vir mense. Soveel as wat ek my stil tye en spasie nodig het, het ek mense net so nodig, mense wat my verstaan en wie ek verstaan.

Deesdae is van my familie vir my soos vriende (ander soos vreemdelinge, maar daaroor praat mens liewer nie) Sondae was die hele familie by oupa en ouma Minnaar. Ouma het die lekkerste gebraaide aartappels gemaak, sag binne en krummelrig buite. Daar was soet patats, bone met aartappels en uie, twee vleisdisse – altyd hoender en skaap. Onder tafelgbed moes ons keer deur ons hande oor ons borde kos te sit, want my oom Boetie het vir snaaksegeit ons hoenderboudjies gesteel!

Nagereg was “canned fruit” gewoonlik guavas wat ouma self ingelê het of Koo ingelegde vrugte saam Orly Whip of room. Andertye het ons pakkies aanmaak jellie en poeding in boksies geëet, of na kerk vyf liter houers roomys gaan koop en dit stelselmatig deur die dag opgeëet saam met vrugte. Namiddae is die res van die roomys gebruik vir ‘floats’. As ek nou daaraan dink rek my oë met die hoeveelhede wat ons op ‘n Sondagmiddag aan weggelê het.

Naweke het ek menigmaal by my ouma Mieta en jongste tannie Lucia oorgeslaap. Dit was te lekker om agter ouma met haar hare in krullers en kopdoek, in haar kooi te kan inkruip. Haar 4711 is baie kere stilletjies uit die laat uit gehaal om aan te ruik en bietjie aan my polse te sit. In die middae as ouma moeg in die sitkamer gaan sit het, was ek mal daaroor om met haar hare te speel. Later jare toe my tannie en haar twee klein kinders terug gekom het huis toe, het ons die patroon herhaal met hulle wat met my hare gespeel het en my “grimeer” het. G’n wonder dat die eerste ding wat ek geswot het haarkappery was nie! Swaar tye, goeie tye, verstaan tye, misverstaan tye, liefde tye, haat tye, my familie sal altyd vir my belangrik wees!

Ons was altyd omring deur musiek. My ma se Minnaar kant was nog altyd lief vir musiek. My ouma en jonger tannie het so half-half orrel gespeel en mooi gesing, my oom het ‘n pragtige ligte bas gehad, my oupa het die viool en saag gespeel. My ma was orrelis en later dirigent, het pragtig gesing en silwerfluit gespeel. My pa was eers diaken en koordirigent, toe later priester en gemeenteleier. Later jare het ek self in die gemeente koor en ook ‘n spesiale distriks-koor gesing. Die liefde vir musiek sal vir my altyd daar wees en het my al deur vele dinge gedra. Veral klassiek musiek. Ek onthou bykans nooit die name nie, maar sit ‘n gunsteling op en my hare op my kop staan regop van plesier. Dan het ek het nog ‘n geheime droom om eendag voordat ek tagtig is sigeuner wysies saam ‘n huilende viool in ‘n rokerige kroeg iewers te sing!

Kersfees het ons ‘n spesiale uitrusting gekry, wat ons kon gaan uitsoek in Zinniaville by een van die Indier winkels. Een van my mooiste rokke wat ek altyd sal onthou was ‘n sagte, deursigtige, geblomde pienk affere met ‘n pienk lint. Dit het my verewig ‘n liefde vir mooi materiale gegee. Ek het vir ‘n rukkie groot drome gehad van klere ontwerper word en in Pretoria by ‘n eksklusiewe skool gaan swot, maar ‘n groot mislukking daarvan gemaak as gevolg van vele dinge. Die liefde vir mooi klere het gebly, alhoewel ek lankal nie meer dieselfde waarde aan die uiterlike heg as toe nie.

My pa was toe ek baie klein was in die bou bedryf. Dit was vir my vreeslik opwindend om saam hom na die halfgeboude huise te gaan kyk. Te sien hoe hy somtyds self die tëels lê, mure pleister of plafonne lê. Baie van sy huise staan seker nou nog, veral in Zinniaville waar hy baie van sy kliente vandaan gekry het maar oor verder op in die dorp. Die liefde vir ‘n lëe of halfgeboude huis is nogsteeds met my. Al daardie potensiaal en moontlikhede is vir my wonderlik. Voeg daarby trein stasies en lughawens. Enigiets waar die potensiaal en moontlikheid van ‘n klein avontuur in die lug hang!

Vakansies is in Durban deurgebring. Daar was niks lekkerder as om baie vroeg wakker gemaak te word, in die kar te verder te slaap en dan om ‘n paar ure later wakker te word met die mooi Drakensberge en hoë bangmaak passe wat jou omring nie. Padkos was eiers en broodjies en maalvleisbolletjies saam met soet swart koffie. Dit was heerlik om langs die pad te stop en bene te rek by die ou sement piekniek tafels, voor jy weer die lang pad moes aandurf.

As ons rusteloos geraak het mammie Shadows of Clap Clap sounds opgesit , of begin FAK liedjies sing. Somtyds ‘n kanon waar ons iewers in die middel moes inval en probeer koers hou tussen al die ander stemme. Dan, daardie inry in Durban in en die probeer om die see heel eerste raak te sien! Wat ‘n lekker warboel van kleure en klanke as ek aan ons see vakansies dink – Killarney hotel, riksjas, kabel karretjies, stamp karretjies, spookasem, emmertjies, grafies, sand in ons hare en die Golden Dragon restaurant met al sy vreemde disse. Later jare was die Mosambiekse see met sy stil warm water of die somtyds wilde koue Kaapse see vir my wonderlik. Die see is waar ek die meeste soos myself voel, waar ek kan ontspan en ek op my gelukkigste is.

Ek sal seker vir ure kan skryf oor my kinder en jongmens dae. Hoe meer ek skryf hoe meer onthou ek. Die goeie sowel as die slegte. Ons almal kan.

Die punt wat ek egter wil maak is dat ‘n goeie terugkyk in jou verlede jou kan help onthou wie jy werklik is, diep in jou siel. Wat dit is wat jy nodig het om jou deur slegte dae te dra en goeie dae net meer te kan verryk. Wat dit is wat jou staande kan hou. Meeste mense vergeet hulle liedjies en dis ‘n tragedie.

Bring hierdie dinge terug in jou hede in. Al spandeer jy net vyftien minute ‘n dag daarop, dit maak die wêreld se verskil aan die toestand van jou hart en siel!

2 thoughts on “Onthou jy nog jou liedjies?

  1. Ai Charmaine, hoe laat jy nou my trane rol, daar is so baie van jou verlede wat ons ook saam ervaar het. Dit voel soos nou di dag. Dit was wonderlike tye. Ek het sommer die verlede saam met jou gestap. Dankie dat jy die onthou om te onthou met soveel liefde bedskryf het. Liefdetjies xx Tannie Poppie

    1. Ek is ook nou so bietjie heimwee-erig :-). Partykeer goed vir mens om so bietjie te huil ne? Julle het ‘n groot rol in my lewe gespeel. Se liefde vir oom Johan xxx

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *