Vergange en nuwe liefde

Leave heart
Source: biancamentil – Pixabay

 

Onthou jy nog jou jeugliefdes? Het jy al gaan stil sit en dink aan die impak wat jou vorige verhoudings op jou huidige het? Watse skewe lesse ‘n mens partykeer oor selfwaarde en liefde opbou? Hopelik leer mens later uit jou foute en begin weer glo aan die liefde!

Dit begin vroeg al, hierdie sirkel dans van man en vrou. Die manlike geslag (partykeer die adder geslag, alhoewel die Bybel ons anders bly vertel), daardie kreature wat soveel anders is as die vroulike spesie, so moeilik om partykeer te verstaan. Daar’s die seuntjie langsaan wat jy oor die draad mee gekuier het, wat jy nie werklik kan onthou nie, maar jy het die nalatingskap van sy vriendskap – ‘n dik, wit riffie onder jou pinkie soos hy hou met ‘n naelknippertjie bygedam het. Daar’s die ouer seuntjie wat in die geheim jou hand vashou in die kerk, en jou braaf wil beskerm as sy maatjies lastig raak. Nog enetjie wie se ma so graag wou hê julle moet trou as julle eendag groot is. Daar’s die seuntjie in dieselfde klas as jy, wat jou bewonder en jou gedurig terg, maar jy het net oë vir die ouer blondekuif rykman seun wat jou vra om te kys op lentedag. Dit hou net ‘n paar uur, want jou wegstoot van mans waarvan jy werklik hou, begin vroeg.

Dan word jy ‘n tiener en in standerd sewe kry jy jou eerste hoërskool kys, ‘n stoute, sexy mannetjie wat jy nie kan glo kan van jou hou nie, maar jy kan naderhand nie anders as om hom te glo nie, want hy loop al agter jou aan vir maande, voordat hy jou vra om sy meisie te word. Dit hou drie, vier maande voordat jy weereens die een is wat dit beëindig, want jy voel nie goed genoeg vir hom nie. Jy beëindig dit liewer, voor hy besef hoe alledaags jy is en jou los. Hy laat ook nie gras onder sy voete groei nie, die volgende dag het hy ‘n veel jonger meisietjie aan sy sy, wat hy op die bus ontmoet het. Dis ongelukkig die verloop van tienerliefde vir jou!

Jou eerste groot liefdesterleurstelling kom nie baie jare later nie. Die veel ouer seun wie se voete jy aanbid, het groot geword en hy gaan trou, en dis nie met jou nie. Vir ‘n rukkie is jy in skok, hy was dan die “een”. Vele jare later ontmoet jy iemand wat werklik soos die een voel en hy is soveel anders en meer gepas vir jou as wat jy ooit van kon droom.

Na jou vreeslike groot liefdesterleurstelling begin jy prakties word. Jy vat wat jy glo jy kan kry. Die donkerkop kerk seun wat somtyds ‘n wilde woede streep het, maar wat baie goed na jou en jou hart kyk, beter as wat vele daarna sou doen. Die gefluister agter die hande oor twyfelagtige bloedlyne en jou pa se afkeur aan die verhouding bring vinnig ‘n stop aan hierdie liefde! Nie lank daarna nie, trou hy met ‘n blonde meisie uit ‘n arm gesin wat hom mooi oppas en jy is bly vir hom, want hy is ‘n goeie man wat iemand verdien wat hom onvoorwaardelik lief het. Daar’s die veel ouer jongman waarmee jy vriende word, wat ‘n hartseer en sensitiwiteit oorgehou het van Angola. Hy kom kuier amper elke dag vir jou terwyl jy met geelsug en daarna klierkoors in die bed lê en net groente en vrugtesap kan inhou. Wanneer jy uiteindelik gesond genoeg is om op te staan, is hy daar om ente om die blok met jou te loop om jou kragte terug te kry. Julle deel ‘n liefde vir kuns en jou hart breek so bietjie wanneer hy besluit om te trou. Jare daarna hoor jy met groot hartseer dat hy sy lewe in ‘n motor ongeluk verloor het, veels te vroeg. Die lewe vat die mooistes partykeer eerste.

Na skool is daar die blondekop jongman wat jou hart steel. Ongelukkig nie net joune nie, die hele Rustenburg en Pretoria s’n ook. Vir ‘n rukkie daar lyk dit asof hy baie van jou hou en dan trou hy met ‘n sexy blonde dolla met baie hare, ‘n lekker lyf en lang bene wat op hoë hakskoene rondwals. ‘n Paar jaar later verlaat hierdie jeugliefde ook tragies die lewe. Dan is daar die donkerkop in ‘n blou jeep, wat in dieselfde tydsgleuf ook eers lyk of hy belangstel en dan ewe skielik trou met nog ‘n blonde poppie. Vir ‘n rukkie daarna het jy ‘n renons in al wat ‘n blonde meisie is, veral die wat op hoë hakskoene waggel en lyf swaai, want dis nie wie jy is nie en jy kan jouself nie verander in iets wat jy nooit gaan wees nie. Nou verstaan ek beter, ons is maar almal net wat ons is of voel ons moet wees om deur hierdie lewe te kom. Ek vra innige vergifnis van al die blonde meisies van daardie jare wat ek so hatig op was! Gelukkig word ons wyser deur die jare.

En so beaam ‘n vierde jongman in ‘n spasie van omtrent vyf jaar die idee wat in jou kop en hart kom lê het, dat jy nie troumateriaal is nie. Van daar af is dit ‘n afdraande pad van interessante kreature waarna jy in jou wildste drome voorheen nie na sou gekyk het nie, maar nou goed genoeg is vir jou. Daar’s die man wat jou agt jaar lank jou aan ‘n lyntjie hou, somtyds jou bed deel en dan verdwyn, net om maande later weer te verskyn. Mooi beloftes word elke nou en dan gemaak en dan weer verbreek. As jy terugkyk, kan jy om die dood nie verstaan waarom jy die man in die eerste plek in jou lewe ingelaat het nie, jy het hom nie eers aantreklik gevind nie, wat nog te se hom liefgehad of gedink dat hy goeie trouman materiaal sou wees. Hy word gevolg deur die wat jou vriendskap wil hê terwyl hulle “die een” soek, die wat jou lyf wil hê, maar nie jou hart nie, die wat jou hart wil hê maar jy moet al die vry-werk doen, die wat met jou wil trou maar jy wil niks weet nie, want dit voel net nie reg nie, die boheem wat jou laat hyg na jou asem, maar niks vir jou kop, hart en siel doen nie, die vele wat die soustrein ry terwyl dit goed gaan met jou en jy partytjies by dosyne kan hou, skinkborde vol shooters en ander gunstes en gawes kan uitdeel.

Hierdie periode word mooi afgerond met ‘n man agt jaar jonger as jy met slaperige blou engel oë, Christelike waardes. Sonder twyfel lieflik. Net een probleempie, hy kan nie besluit of hy jou wil he of nie. Wanneer ander mans belangstel, is jy syne, andersins is jy net sy vriendin wat oral saam hom karring, insluitende kerk toe. Maande van stilte tussen julle word uiteindelik verbreek net om te hoor dat hy gaan trou. Die een goeie ding wat hy jou nagelaat het? Jy verstaan nou dat ‘n verhouding sonder die geestelike aspek nooit vir jou kan werk nie. Jy soek diepte en goeie waardes in ‘n man. Sommige van ons leer maar stadig en pynlik aan ons lesse!

In jou vroeë dertigs is jy gedaan en ontnugter en sweer alle verhoudings af tot jou veertigste jaar. Jy begin ‘n vriendskap met ‘n Engelsman aan die ander kant van die wereld want dis veilig, soos jy deesdae verkies. So nou en dan vertel jou kop jou dit kan miskien werk maar nie jou, hart, siel of lyf stem saam nie. Hy is ‘n goeie man maar jy weet hy sal nooit jou vuurwarm hart in sy hande kan vashou nie, daarvoor is hy te versigtig en passief. Jy begin spot jy gaan ‘n non word en in ‘n klooster gaan bly, of vir jou ekstra katte en ‘n kanarie koop en in ‘n woud iewers in Oos Europa gaan bly. Bont kopdoeke, groot oorringe en flappende klere dra, allerhande vreemde moeraskleur brousels in ‘n groot swart, driebeen pot voorberei, terwyl jy misterieuse dinge onder jou asem prewel en grom. Totdat die mense in die omtrek begin fluister oor die mal, gevaarlike vrou diep in die woud!

En dan en dan en dan … verskyn iemand op die horison, wat alle idees oor iewers in ‘n klooster gaan bly, vir ewig en altyd by jou laat uitfluit. Hy dink anders, hy doen anders, hy is anders. Sy mooi groot bruin oë met die lagplooitjies in die hoeke, vertel jou hy is sag en liefdevol, kyk nugter na die wereld, maar hy kan ook droom en onnutsig wees. Sy doen en late beaam dit. Jou hart fluister vir jou, hierdie een is anders. Jou drome vertel jou wat jou hart al lankal weet. Jy word wakker met ‘n fluistering van die woorde Anam Cara in jou ore – soulmate, sielemaat!

‘n Distansie van honderde kilometers, maak geen verskil nie. Jy voel die band tussen julle. Hy gaan reis en ‘n selfs die duisende kilometers, keer nie dat jy soms sy hart voel fladder vir jou nie. Hy laat jou hoër mik, groter droom, beter wees en jy kan net hoop en bid jy kan dieselfde vir hom doen. Glo dat jy en hy julle lesse geleer het en dat hierdie een gaan hou!

Jy weet julle sal mekaar se harte en hande vashou as julle deur die donker gange van die lewe moet loop. Aanhou probeer in swaar tye, nie moed opgee nie.

Jy onthou die woorde wat jy onlangs iewers gehoor het – vind ‘n veilige hawe vir jou siel en jy weet “this is it”!

En my vriende as hierdie een nie uitwerk nie, moet julle my maar help om ‘n fondsinsameling te reël,  sodat ek my huisie in die woud en ‘n driebeen pot kan koop, want as daar een les is wat ek geleer het is dit: Jy is sterker as wat jy dink. So wonderlik soos die liefde is, het jy nie iemand anders nodig om jou te voltooi nie. Jy is goed genoeg, die lewe is goed genoeg met of sonder ‘n maat.

3 thoughts on “Vergange en nuwe liefde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *